spiralDries du Toit Consult CC

Newsroom

Finansiële markte gee en neem

Geld Rapport

Oor die afgelope paar jaar het aandelemarkte geneem en nie gegee nie. Geld- en kapitaalmarkte het weer oorwegend gegee. Finansiële markte beweeg nie in reguit lyne nie.

Daar is bulmarkte waarin bulle goed vaar, beermarkte waarin bere goed vaar en slagpale waar skape geslag word elke keer as hulle by die langtermyndraaipunte die verkeerde besluite neem op grond van die kudde-effek (‘herd instinct’) van vrees en gierigheid (‘fear and greed’).

Daar is 10 redes waarom ek versigtig optimisties is oor die toekoms.

Internasionaal

  1. Die VSA-ekonomie gaan in die tweede helfte van 2003 en kalenderjaar 2004 herstel.
  2. Die VSA-10-jaar-staatseffekte tussen 4% en 4.5% verdiskonteer ‘n VSA ekonomiese groeikoers van 3-4% gedurende die tweede helfte van 2003 en kalenderjaar 2004.
  3. Die ISM-aankopebestuurdersindeks vir vervaardiging én dienste voorspel beter dae vorentoe.
  4. Japan is besig om te herstel en China presteer puik. Europa sal na verwagting in 2004 volg.
  5. Ontwikkelende lande (ook SA) is baie goed geplaas om hieruit voordeel te trek.

Plaaslik

  1. Die vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie kan beskryf word deur middel van:
    • Struktureel laer inflasie
    • Laer korttermynrentekoerse
    • Langtermynkoerse wat alreeds grotendeels die gunstige omgewing verdiskonteer
    • Sake- en verbruikersvertroue wat verbeter
    • ’n Rand wat moontlik reeds sy beste vlakke teen die dollar, euro en pond bereik het
  2. Alhoewel die verdienste- en dividendgroei van aandele onder druk is vanweë die sterk rand behoort ’n herstel in 2004 in te tree.
  3. Die markaanslag van aandele kan positief beïnvloed word deur struktureel laer inflasie en rentekoerse. Pryse kan vinniger styg as verdienste en dividende.
  4. Genoteerde eiendom lyk minder aantreklik as aandele, maar meer aantreklik as effekte en kontant. Direkte eiendom lyk steeds beter as effekte en kontant.
  5. Die langtermynvooruitsigte van Suid-Afrika en ontwikkelende lande lyk beter as wat huidige markpersepsies voorspel. Hierdie dekade gaan die telbord verander. Die toekoms lê in die ontwikkelende lande en suidelike halfrond, China en Indië.

Die 5 vernaamste risiko’s bly egter ongemaklik hoog:

  1. Geopolitiese risiko’s/terrorisme
  2. Gebrek aan vrede in die Midde-Ooste
  3. Die verouderingsproses in veral Europa en Japan wat tot uiteindelike stagnasie kan lei. Min nuwe werksgeleenthede gaan daar sowel as in die VSA geskep word.
  4. Misdaad/geweld en witboordjiemisdaad
  5. Ekstreme weerstoestande oor die hele wêreld

In die huidige dekade moet daar teruggekeer word na die basiese fundamentele waardes en beginsels wat die toets van die tyd deurstaan het. Moenie probeer om ’n held (‘hero’) te wees nie. Deur gesonde diversifikasie kan u u langtermyn persoonlike doelwitte bereik. Met ‘n ‘alles of niks’- benadering gaan u nie baie ver kom nie. Alle sukses met u besluite. Ons glo dat finansiële markte, veral aandele, in 2003 en 2004 eerder gaan gee as neem.